Drie van Umtata voor vir bedrog en besit van diefstaltoerusting

Deur Marlene Malan
DRIE inwoners van Umtata het gister in die Prins Albert Landdroshof verskyn op aanklagte van bedrog en die besit van huis- en motorinbraaktoerusting.

Dit kom nadat Prins Albert en Klaarstroom se polisie hulle die nag van 28 Junie by die Beaufort-Wes / Prins Albert / Klaarstroom-padaan­sluiting net voor Meiringspoort vasgetrek het en die toerusting, asook handskoene, in hul motor aangetref het.

Die motor is by die maatskappy Avis by die Oos-Londen Lughawe gehuur.
Avis het ’n klag van bedrog teen die mans gelê omdat die toereteller van die motor ontkoppel en beskadig is, waarskynlik om te keer dat die kilometerlesing aangedui word.

Dit is hulle derde verskyning, omdat ’n tolk gister die eerste keer beskikbaar was. Die drie, in hul laat twintigs en vroeë dertigs, is nie gevra om te pleit nie.

Die saak is uitgestel omdat beskuldigde een se prokureur, Evert van Zyl van Prins Albert, nie teen­woordig kon wees nie.

Beskuldigdes twee en drie het aangedui dat hulle hul eie verdedi­ging gaan behartig.
Die Prins Albert Polisie het by navraag aan Die Hoorn gesê daar word vermoed dat die drie deel is van ’n misdaadsindikaat wat in die Wes- en Oos-Kaap motors en woonhuise teiken.

Beskuldigdes twee en drie het aangedui dat hulle om borgtog aansoek wil doen, waarop landdros Tom Claassen gesê het dit kan net tydens ’n formele aansoek gedoen word, omdat die staatsaanklaer, Marvon de Vos, dit gaan teenstaan.

“Tot dan moet julle in hegtenis bly,” het Claassen gesê.
Al drie word in die Prins Albert-gevangenis aangehou.

Beskuldigde een het die hof gevra om sy saak van dié van sy medebeskuldigdes te skei, “sodat ek net vir bedrog aangekla word”.

Hierop het Claassen gesê dis ’n kwessie wat hy met sy prokureur moet bespreek.

Claassen het die saak uitgestel tot 26 Julie vir formele pleitverrigtinge en moontlik ook aansoeke om borgtog.

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2017. Digitale projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?