Borgtog toegestaan aan kruiedokter wat na bewering geld sou vermeerder

hof-images (3)
Deur Garnett Wicomb
BORGTOG van R3 000 is verlede Donderdag in die Oudtshoorn Landdroshof aan ’n Ugandese vrou wat van bedrog aangekla word, toegestaan.
Justine Nambuya (27), wat as ’n kruiedokter bekend as “Dr Eve” haar eie besigheid op Oudtshoorn bedryf, het na bewering ’n vrou van Oudtshoorn uit R40 000 bedrieg.
Sy het volgens die klagstaat die vrou beloof dat sy die R40 000 vir haar sal verdubbel, maar dit toe vir haarself toegeëien.
Die staatsaanklaer, Leonie van Rooyen, het nie die borgaansoek teengestaan nie en die hof gevra om borgtog op R5 000 vas te stel.
Nambuya se regsverteenwoordiger, Vaughn Shone, het gesê Nambuya kan nie R5 000 bekostig nie en gevra dat borgtog na R2 000 verminder word. Nambuya beskik oor ’n geldige verblyfpermit vir Suid-Afrika wat eers in November vanjaar verstryk.
Landdros Roelf Konstabel het daarna borgtog van R3 000 met streng borgvoorwaardes aan Nambuya toegestaan. Sy moet twee keer per week by die Oudtshoorn Polisiekantoor aanmeld, nie kontak maak met die klaer nie, nie van adres verander nie, haar weerhou van enige misdaad en nie die dorp verlaat sonder die wete van die ondersoekbeampte nie.
Die saak is vir verdere ondersoek tot 25 Julie uitgestel.

Log in with your credentials

Forgot your details?