Boer gevonnis vir bobbejaan-vergiftiging

Deur Garnett Wicomb
’N BOER in die Oudtshoorn-distrik is in die Oudtshoorn Landdroshof ’n opgeskorte vonnis opgelê vir die vergiftiging van bobbejane.

Die 78-jarige Robert Baumont van die plaas Mooihoek, Moerasrivier, se regsverteenwoordiger, Wenzel Botha, het die hof meegedeel dat sowat 150 bobbejane daagliks op die plaas toesak. Alles wat geplant word, word opgevreet en skade word voor die voet aangerig.

Hulle het ook 50 van 60 byekorwe op die plaas verniel en waterpype uit die grond geruk.
Toe hy van die bobbejane gevang en in hokke toegesluit het, het beamptes van CapeNature gekom en hulle vrygelaat.

Die beskuldigde het volgens Botha al alles probeer, totdat hy sy toevlug tot ’n gifmiddel wat slakke doodmaak gewend het.
’n Beampte van CapeNature, Allistair Pietersen, het getuig dat dit onwettig is en aanbeveel dat Baumont sy heinings elektrifiseer.

Hy mag ook twee bobbejane per dag doodskiet, het Pietersen aan die hof gesê.

Op ’n vraag van landdros René Gerber waarom die bobbejane wat Baumont gevang het deur amptenare van CapeNature vrygelaat is, het Pietersen getuig dat hy nie daarvan kennis dra nie.

Hy het voorts getuig dat geen permit nodig is om bobbejane te jag nie.

Oor die gif wat Baumont gebruik het, het Pietersen op ’n vraag van die hof geantwoord dat hy nie ’n gifspesialis is nie.

Botha het die hof vir ’n opgeskorte vonnis gevra omdat Baumont ’n eer­ste oortrder is, skuldig gepleit het en gesê het hy is jammer oor wat hy gedoen het.

Baumont is ’n boete van R500 of drie maande gevangenisstraf opgelê wat in geheel vir drie jaar opgeskort is.

• Toe Baumont se selfoon ge­du­rende die verhoor in sy sak gelui en die landdros gevra het dat hy dit afsit was sy antwoord: “Ek het die bleddie ding afgesit, maar hy wil nie vrek nie. Nes die bobbejane.”

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2018. Digitale projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?