Doen jouself ’n guns in 2017, en begin beweeg!

Mia le Roux

deur: Mia le Roux

Mia le Roux skryf oor fiksheid en gesondheid

WANNEER jy ’n nuwejaarsbe­sluit neem om in die nuwe jaar fikser en gesonder te word, is dit belangrik dat die besluit uitvoerbaar en bereikbaar moet wees. Dit is moontlik.

Moet net nie ’n groter hap afbyt as wat jy kan kou nie! Die meeste nuwejaarsvoornemens oor fiksheid faal omdat dit nie volhoubaar is nie.

Onthou, ’n gesonde, produktiewe brein is afhanklik van ’n gesonde liggaam. Behandel daarom jou liggaam op die ma­nier wat dit verdien – sodat dit die vermoë behou om te beweeg en funksioneel te wees.

Daar is ’n paar faktore wat in ag geneem moet word om jou gesondheid en geluk te fasiliteer.

• ’n Aktiewe leefstyl – selfs al gaan stap jy net tien minute per dag – is goed vir jou en hou talle voor­dele in.

Beweging van jou gewrigte stimu­leer die afskeiding van sinoviale vloeistof wat weer help met die glad­de beweging van jou gewrigte en ook die bene in jou liggaam voed.

Oefening verminder ook jou stres­vlakke terwyl endorfiene – bekend as die gelukkige hormoon – vrygestel word.

• Gewigsverlies volg dikwels wanneer jy begin oefen, maar die groter uitdaging is om nie toe te laat dat jou gewig weer toeneem nie.

Jou fiksheidsdoelwitte moet ook nooit jou leefstyl vir ’n kort periode be­perk en inperk nie, maar eerder ’n oorgang na ’n gesonde leefstyl fasiliteer.
Kitsdiëte is ook ’n groot nee.

Eet eerder gesonde, goed geba­lanseer­­de maaltye om jou liggaam te voed.

• ’n Gebrek aan motivering speel oënskynlik ’n groot rol in mense se traagheid om te begin oefen. Ek word dikwels gevra hoe ek dit regkry om so gemoti­veerd te bly. My antwoord is dat motivering nie die sleutel is nie, maar eerder dissipline.

Om gesonde kos te eet, ses tot agt glase water per dag te drink en ten minste drie dae per week te oefen moet ’n gewoonte word – soos om jou tande elke oggend te borsel. Jy dink nie aan dit nie; jy doen dit net.

’n Gesonde lewenswyse is heeltemal moontlik, maar dit hang af van jou en jou ingesteldheid of jy dit sal kan regkry of nie.

Hou op om te vra wat die wê­reld nodig het. Vra eerder wat laat jou lewendig en goed voel, en gaan doen dit. Die wêreld het mense nodig wat ander kan inspireer en ’n verskil maak deur jou passie of jou beroep.

Streef daarna om 2017 ’n jaar van gesondheid en geluk te maak. Ek hoop om deur my ru­brieke vanjaar ’n bydrae hiertoe te lewer.

• Mia is ’n gekwalifiseerde persoonlike afrigter. Sy studeer tans om as ’n oefeningspesialis te kwalifi­seer.

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2017. Digitale projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?