Willie Lamont vereer met pouslike medalje

Vader Enrico Parry, kanselier van die Katolieke bisdom Oudtshoorn, saam met Willie Lamont aan wie hy ’n medalje oorhandig het.

Vader Enrico Parry, kanselier van die Katolieke bisdom Oudtshoorn, saam met Willie Lamont aan wie hy ’n medalje oorhandig het.

’N INWONER van Oudtshoorn, Willie Lamont, het Sondag (17 Des) die pouslike Bene Merentimedalje
ontvang vir 40 jaar getroue diens aan die plaaslike Katolieke Kerk. Lamont is die boekhouer en vise-kanselier vir die Bisdom Oudtshoorn, en is verbonde aan die St Nicholas Katolieke Kerk op
Oudtshoorn.

Hy het in 1977 in die kantoor van wyle biskop Manfred Gottschalk begin werk waar vader Karl Vogel, destydse sekretaris en kanselier, hom in boekhouding en algemene kantoorbestuur opgelei
het. Emeritus-biskop Edward Adams Lamont het hom in 1994 as vise-kanselier aange stel.

Die medalje wat aan hom toegeken is, bestaan uit ’n goue Griekse kruis waarop Christus, met sy
hand in ’n seëning uitgestrek, uitgebeeld word. Op die linkerarm van die kruis is die simbool van die
pousamp, naamlik die pouslike kroon en die Petrussleutels. Regs is die wapenskild van die
huidige pous Franciskus. Die medalje hang aan ’n wit en geel lint, die kleure van die Vatikaan.

Met dié toekenning sluit Lamont aan by ’n uitgelese groep wat die medalje ontvang het sedert
dit in die 1700’s vir die eerste keer toegeken is.

Van die bekendes wat al soos Lamont vereer is, is Maria Augusta von Trapp wat in 1949 die Bene
Merenti-medalje van pous Pius XII ontvang het vir haar gesin se volgehoue diens aan die armes in
Oostenryk. Die musiekblyspel Sound of Music is op die von Trapp-gesin se lewe gegrond. In 1991
het pous Johannes Paulus II die medalje toegeken aan koningin Silvia van Swede vir haar werk met
mense met gestremdhede, disleksie en dementia.

Biskop Frank de Gouveia, huidige biskop van Oudtshoorn, sê Lamont het dié toekenning gekry
vir vier dekades se getrouheid en toewyding aan sy werk wat hom ’n ooggetuie gemaak het van hoe
die bisdom oor ’n lang tydperk verander het.

De Gouveia het bygevoeg dat die toekenning ’n erkenning is van Lamont se goeie voorbeeld.

Vader Wim Sabo van die St Nicholas Katolieke Kerk het die pouslike medalje Sondag, die derde
Sondag in Advent, aan Lamont oorhandig.

Vader Leon Mostert, gemeentepriester, het gesê dit is die eerste keer dat so ’n eer die plaaslike
gemeente te beurt val en dat die gemeente trots op Lamont is vir die uitsonderlike prestasie.

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2018. Digitale projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?