Stigting van buurtwag vir Wesbank tans in beplanning

Deur Ilze-Mari Gründling
SOWAT 100 inwoners van Wesbank in Oudts­hoorn het Maandagaand ’n openbare vergadering in die NG Kerk Wes-saal bygewoon oor vei­ligheid en die moontlike stigting van ’n buurtwag.

Die vergadering is geïnisieer deur die Wesbank Straatkomitee wat deur WhatsApp-groepe in die woonbuurt funksioneer. ’n WhatsApp-groep vir inwoners van Wesbank is verlede maand deur ’n inwoner, Amanda Pieterse, gestig omdat sy bekom­merd is oor die veiligheid van die area. Dié groep het intussen te groot geword en is verdeel in ’n Wesbank-Suid- en Wesbank-Noord-groep.

“Ek is oorpronklik van Durban, en ek en my gesin het Oudtshoorn toe verhuis omdat dit vei­liger is hier,” sê Pieterse. “Maar die afgelope paar weke is daar al hoe meer verdagte persone wat in die area beweeg, en om veiliger te wees dink ek ’n buurtwag sal ons beslis vorentoe benut.”

Kapt Wynand du Plessis, sektorbevelvoerder vir Oudtshoorn, het ook die vergadering bygewoon en mense aangemoedig om by ’n buurtwag aan te sluit. Hy het ook verduidelik wat om te doen as mense in ’n noodsituasie nie by die regte persone by die polisiekantoor kan uitkom nie.

“Dit is waar dat ons nie altyd oor genoeg man­ne­krag beskik nie, en dat daar nie altyd genoeg voer­tuie vir die dorp self is nie. Meeste van ons voertuie word uitgeroep na Bridgton en Bongolethu, maar daar is ander kanale waardeur mense kan werk. Dit is hoekom ’n buurtwag so belangrik is – die buurtwag is die polisie se oë en ore.”

Hy het gesê die volgende nommers kan gebel word indien ’n voertuig nie onmiddellik uitgestuur word nie:

• Skakel die radiobeheerkamer by 044 203 9022/9089.
• Indien radiobeheer nie beskikbaar is nie, skakel die aanklagkantoor by 044 203 9014.
• Indien die aanklagkantoor nie beskikbaar is nie, skakel die skofbevelvoerder by 079 893 9968.
• Kontak die voertuig direk (nadat ander kanale probeer is) by 082 522 1928.
• Skakel kapt Du Plessis by 082 821 1027.

Du Plessis het gevra dat mense te alle tye waar moontlik ’n volledige beskrywing of foto’s van verdagtes vir die polisie of buurtwag moet gee.

Hy het ook bygevoeg dat mense veilig moet dink en nie skelms ’n kans moet gee om iets te steel of in te breek nie.

Vullissakke moet nie die aand voor die tyd uitgesit word nie, want dit gee verdagte persone meer tyd om in die gebied rond te beweeg en inwoners se doen en late dop te hou.

Du Plessis het verwys na die sukses van Oudts­hoorn-Noord se buurtwag.

“Die misdaad in Oudtshoorn-Noord is minimaal, en dit as gevolg van die buurtwag. Solank dit ook net reg bestuur word, sal dit baie help.”

Pieter Westraad, Gemeenskapsveiligheid by die Afriforum Oudtshoorn-tak het ook die vergadering bygewoon en verduidelik watter dienste Afriforum aanbied. Hy kan by 081 729 1490 gekontak word.

Komiteelede vir ’n buurtwag sal tydens ’n volgende vergadering verkies word.

Inwoners wat wil deel word van die WhatsApp-groepe vir Wesbank-Noord en -Suid kan Du Plessis kontak.

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2017. Digitale projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?