SMS’e van lesers

Dankie, DA, vir die nuwe padoppervlak voor die Oudtshoorn Aftreeoord. Ons hoop dat die slegte deel van Parkweg voor die lughawe ook ’n nuwe laag teer kan kry. In my meer as 20 jaar as belastingbetaler is die deel van Parkweg nog nooit behoorlik onderhou nie. Kan die Parkweg-dubbelbaan nie verleng word om die deel voor die lug­hawe in te sluit nie? Dit lyk asof daar spasie daarvoor is. Onthou, hierdie is ’n besige deurpad. Kan die munisipaliteit deur middel van Die Hoorn reageer asseblief.
• Die Oudtshoorn Munisipaliteit het as volg op die sms gereageer: Onderhoud het Woensdag (gister) in Parkweg-Noord begin (vanaf Voortrekker- tot Noordstraat). Hopelik gaan Parkweg-Suid (voor die lughawe) in die vol­gende boekjaar (2017/2018) herseël word, afhangende of daar befondsing is en of die raad dit sal prioritiseer.
Om die dubbelbaan in Parkweg te verleng, is beslis nie tans ’n oorweging nie, aangesien kapitaal- en onderhouds­befondsing dit eenvoudig nie toelaat nie.
*****

Ek het al meer as ’n jaar gelede boeke aan die biblioteek geskenk en dit is nou nog nie beskikbaar van die publiek om uit te neem nie. Treurig.
*****

Nou het ek alles gehoor. Ek kom by die poskantoor om seëls te koop. Die klerk deel my mee dat hulle geen seëls het nie; miskien oor so drie weke? Ek word verwys na ’n bekende skryfbehoeftewinkel, wat op hul beurt my meedeel dat die poskantoor baie mense na hulle verwys – maar hulle verkoop nie seëls nie.
*****

Ek is ’n inwoner van Loopstraat 12 en wil graag weet wanneer die Oudtshoorn Munisipaliteit die gedeelte gaan teer waar daar ’n waterpyp gebars het – meer as ’n jaar gelede. Daar het ’n Lewis Store-bakkie die spesifieke oggend vasgeval. Die 100 dae-regmaakaksie is ook al verstreke.
*****

Welgedaan, Oudtshoorn Volunteers vir Diere, met die geld wat julle met die snoekbraai ingesamel het en die wyse waarop julle in Die Hoorn wys hoe julle die bedrag oorhandig. Deursigtigheid is belangrik vir almal wat fondse insamel.
*****

Waar is Steve Hofmeyr, Theuns Jordaan, Elvis Blue, Matthys Roets by die KKNK? Ek en vele ander wil hulle sien en hoor optree! Hulle sorg vir vol sale!
*****

Baie dankie aan Lee-Ann van Sittert vir jou onbaatsugtige diens en liefde aan diere oral! Was dit nie vir jou omgee vir al die hawelose en verwaarloosde diere van Oudtshoorn nie, weet ek nie wat sou gebeur het met hulle nie! Jy praat, want hulle kan nie.
*****

Ek voel so trots om in Die Hoorn te lees van die suksesvolle snoekbraai waarvan die geld aange­wend gaan word om honde te steriliseer. Ek wil graag vir dr Ryder, die veearts, bedank vir sy behulpsaamheid in De Rust as geheel – veral die arm gedeeltes. Dokter, jy’t nog altyd gehelp en niemand weggewys vandat jy in De Rust kom woon het nie. Jy is voorwaar jou integriteit werd. Behou jou gesindheid. Dankie vir jou span se betrokkenheid. Baie inwoners waardeer julle werk en moeite.
*****

Dit is reeds die 13de en die waterrekeninge is nog nie uit nie. Dit behoort in ag geneem te word wanneer die prestasiebonus vir die betrokke direkteur oorweeg word en die burgemeester moet onmiddellik die voorsitter van die portefeulje vervang (Sien berig elders op die bladsy oor die rekeninge. – Redakteur)
*****

Saterdagoggend parkeer ek my Polo Vivo voor St Tropez-woonstelle in Hoogstraat. My man gewaar ’n man geklee in grys en met ’n fiets, besig om aan my motor te peuter. Toe hy nader gaan om ondersoek in te stel, jaag die man op sy fiets weg. My man vind ’n FNB Smart Gold-kaart, waarmee hy die deur probeer oopmaak het, nog in die gleuf van die deur. Die kaart het 01/17 verval en die nommer daarop gedruk is 4841 6210 0869 8670. Ek’t net gewonder of hierdie kaart nie miskien in ’n stadium gesteel is nie. Engee
*****

Ek kan nie glo daar word gekla oor vlieëniers wat saans moet oefen nie! Wanneer moet hulle dan oefen? Waar het dié wat passasiersvliegtuie vlieg geleer om nagvlugte te doen? Julle kan bly wees dit is nie “choppers” nie. Ons het langs ’n vliegveld gebly! Wag tot Oudtshoorn weer eendag die ligte vliegtuigwedren kry. Alles is ’n ekonomiese inspuiting vir die dorp, net soos die KKNK waaroor sommiges ook kla! Bella
*****

Aangaande die brief van Karen Louw van De Rust geskryf oor die geel water. Ek stem 100% saam dat ons korting behoort te kry omdat dit nie ons onwoners se probleem is dat De Rust nie ’n filtreerstelsel het nie. Wat regtig nie vir my sin maak nie is dié – waar pas die sosio-ekonomiese probleme in as u oor water skryf; en die aanhaling dat “baie meisies swanger is”, soos u dit stel, is absolute twak. Maak seker van u feite voor u van sulke propaganda kwyt raak.
*****

Sal graag by munisipaliteit wil weet wie betaal vir die water wat op die varkplaas gebruik word. Hoop nie dat dit geskenk word deur die munisipaliteit nie. (Die sms is aan die munisipaliteit gestuur vir reaksie. – Redakteur)
*****

Die 12 DA- en een ANC-raadslid se wyke is nie behoorlik bekend nie. Kan ons as kiesers/belas­tingbetalers deur middel van Die Hoorn versoek dat kontakbesonderhede van al die raadslede, as­ook die detail van hul onderskeie wyke in die koe­rant geplaas word? Hul foto’s en wyknommers is onlangs geplaas, maar ons wil weet watter strate is ingesluit in die onderskeie wyke. ’n Volledige inligtingstuk wat uitgehaal en gebêre kan word, word verlang, asseblief. (Die sms met die versoek word deur­gestuur na die munisipaliteit. – Redakteur)
*****

Oudtshoorn word bekend vir sy drankkultuur. Net soos dit bekend is vir die hoogste egskeidingsyfer in die land. Romana Strasheim.
*****

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2017. Digitale projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?