Planne vir Oudtshoorn

• Oudtshoorn Munisipaliteit en Gemeenskapskas werk saam

Bo:Joan Daries (Wes-Kaapse Gemeenskapskas, tweede van links voor) en agter van links Deon Britz (burgemeesterskantoor) en burgemeester Colan Sylvester saam met onderwysers van skole in Oudtshoorn, De Rust, Dysselsdorp en Rooiheuwel tydens ’n vergadering oor ’n waardigheidsprojek om gratis sanitêre doekies aan skoolmeisies te  verskaf.

Joan Daries (Wes-Kaapse Gemeenskapskas, tweede van links voor) en agter van links Deon Britz (burgemeesterskantoor) en burgemeester Colan Sylvester saam met onderwysers van skole in Oudtshoorn, De Rust, Dysselsdorp en Rooiheuwel tydens ’n vergadering oor ’n waardigheidsprojek om gratis sanitêre doekies aan skoolmeisies te verskaf.

Burgemeester Colan Sylvester Maandag saam met ’n groep munisipale skoonmakers. Van links is Liezel Kammies, Cheryl Redelinghuis, Stella Jaftha, Patricia Britz en Johanna Frye.   Foto’s: Ilze-Mari Gründling

Burgemeester Colan Sylvester Maandag saam met ’n groep munisipale skoonmakers. Van links is Liezel Kammies, Cheryl Redelinghuis, Stella Jaftha, Patricia Britz en Johanna Frye.  Foto’s: Ilze-Mari Gründling

Deur Ilze-Mari Gründling
DIE Oudtshoorn Munisipaliteit, die Klein Karoo ECD Forum en die Wes-Kaapse Gemeenskapskas beoog om oor ’n tydperk van vyf jaar saam te werk om die Groter Oudtshoorn-gemeenskap op te bou en te versterk deur gemeenskapsprogamme.
Die Gemeenskapskas is ’n nasionale organisasie sonder winsbejag.

Een van die programme wat reeds aangepak is, is vir die verskaffing van gratis sanitêre doekies aan jong meisies wat nie toegang daartoe het nie. ’n Inligtingsessie vir onderwysers is reeds gehou en skole sal nou opnames doen om die behoefte te onder meisies te bepaal.

Die Gemeenskapskas het reeds ’n jaar se voorrraad van sanitêre doekies van ’n verskaffer vir Oudtshoorn ontvang.

“Dit is vir ons belangrik om daar te wees vir die gemeenskap,” sê Joan Daries, programbestuurder van die Wes-Kaapse Gemeenskapskas. “Ons is hier om mense te help waar ons kan. Ons help nie net meisies nie, ons is ook daar vir jong seuns. ”

Die burgemeester van Oudtshoorn, Colan Sylvester, sê daar is baie nood in die gemeenskap wat dringend aandag benodig. “Daar is ook geïdentifiseerde kleuterskole wat in nood is wat ons graag wil help. Ons beoog om produkte soos baba-olie, petroleumjellie, skoonmaaklappies vir babas en dies meer by die skole af te laai.”

Nog projekte wat die munisipaliteit beoog om aan te pak, sluit in ’n verfprojek waar verf aan skole en kerke geskenk sal word as deel van die 67 minute vir Mandela-inisiatief, die Wes-Kaapse Game Changer-projek om die deelname van leerders in naskoolse aktiwiteite te verhoog en sodoende gereelde bywoning te verseker, ’n herwinningsmateriaal-vir-kosprojek en ’n toerismeprojek wat die kultuur van Oudtshoorn wil te toon stel.

Die Wes-Kaapse minister van maatskaplike ont­wikkeling, Albert Fritz, sal Oudtshoorn van 3 tot 5 April besoek en dan met die munisipaliteit en die Gemeenskapskas vergader oor die voorstelle.

• Munisipaliteit sê dankie aan skoonmakers
As deel van die gemeenskapsprogramme het die munisipaliteit Maandag­oggend saam met die Gemeenskapskas klein geskenkies aan die munisipale skoonmakersoorhandig om dankie te sê vir hul werk. “Ons sien raak wat julle doen en waardeer dit ten volle,” het Sylvester gesê. “Mense besef nie altyd die realiteit van jul pligte nie en ons voel dat ons dankie moet sê vir jul bydrae.”

Sylvester sê dat die gemeenskap van Oudts­hoorn saam met die munispale skoonmaakdienste moet werk en nie teen hulle nie.

“Baie lede van die gemeenskap maak die werk van die skoonmaakdienste moeilik deur hul vullis net neer te gooi en dit nie op die regte manier te verwyder nie.

“Ons moet as gemeenskap saam hande vat en sê Oudtshoorn kom eerste.”

Hy het met verwysing na die seskenkie met velroom gesê: “Hierdie is ’n baie klein pakkie, maar ons hoop dat dit ons waardering uitspreek. Die geskenk is vir velsorg, omdat julle gereeld in die warm son moet werk.”

Onderburgemeester Noluthando Mwati het ’n beroep op inwoners gedoen om saam met die munisipaliteit te werk om die dorp, wat tans een van die vuilste dorpe is, oral skoon te hou.

“Cleanliness is next to Godliness. Daarom sê ons dankie vir wat julle doen – dit is ’n baie belang­rike werk – en by dit vra ons ook vir inwo­ners om te help.”

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2018. Digitale projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?