Oudtshoorn se Relay for Life trek honderde geesdriftiges

Die Survivors staan gereed vir hul tradisioenele oorwinningsronde om die atletiekbaan in die De Jager Sportstadion.  Foto: Higgo Jacobs

Die Survivors staan gereed vir hul tradisioenele oorwinningsronde om die atletiekbaan in die De Jager Sportstadion. Foto: Higgo Jacobs

Deur Higgo Jacobs
SOLANK daar lewe is, is daar hoop!

Dit was Saterdagaand die sentrale boodskap by Kansa Oudtshoorn se 11de Relay for Life op die De Jager Sportstadion wat deur honderde Oudts­hoorniete – oud en jonk – bygewoon is. Meer as 60 spanne het aan dié deurnaggeleentheid deelgeneem.

Dit was nie net die boodskap van hoop wat deur verskeie sprekers oorgedra is nie, maar ook die lyftaal van mense by wie kanker vroeër gediagnoseer is, wat ’n positiewe boodskap uitgestraal het: Ons lewe en geniet die lewe dag vir dag. Die tradisionele oorwinningsronde deur mense wat kanker oorleef het, is luid toegejuig.

Ds Andries Potgieter van die NG Gemeente Welgeluk op Oudtshoorn het die skriflesing en gebed waargeneem en ook beklemtoon hoe belang­rik hoop in die lewe van mense is.

Poem Mooney, bekende gemeenskapsleier wat self ’n paar jaar gelede met borskanker gediagnoseer is, het vertel watter pad hy met dié siekte gestap het. “Mense dink dit is net vrouens wat borskanker kry, maar by my is dit gelukkig betyds gediagnoseer en ek moes ook die pad van bestra­ling stap. Wat vir my opvallend was by die onkologie-afdeling op George, is dat kankerpasiënte nie neerslagtig en pessimisties is nie. Hulle bemoedig mekaar en praat daaroor. Dit opsigself is terapeuties,” het hy gesê.

Ook die jonge Yolande Nel wat ’n slagoffer van die gevreesde siekte was, het haar boodskap van hoop aan jongmense oorgedra.

Die burgemeester van Oudtshoorn, Colan Sylvester, wat sy toespraak uit die vuis gelewer het, het aan die einde daarvan die klem op gesonde eetgewoontes geplaas: “Een aspek wat ons nooit uit die oog moet verloor nie, is hoe belangrik ’n gesonde leefstyl en eetgewoontes in die bestryding van kanker is,” het hy gesê.

Rondom die atletiekbaan was papiersakkies geplaas met die name van mense daarop wat nie die siekte oorleef het. Die sakkies is bekend as lumina­riasakkies en die kersies binne-in is later die aand tydens die luminariaseremonie aangesteek.

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2018. Digitale projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?