Oud-onderwyser van Bergsig sterf op 87

Gerty Swigelaar.

Gerty Swigelaar.

Deur Garnett Wicomb
Onderwys was haar passie en sy het na haar uittrede daarmee voortgegaan deur kinders wat nie so goed ge­vorder het op skool nie, namiddae by haar huis te help.

So sal almal vir Sophia Florgina Swigelaar, alom bekend as Juffrou Gerty, onthou.

Swigelaar is onlangs in die ouderdom van 87 oorlede nadat sy lank siek was. Sy is op 18 Januarie vanuit die Weyers Memorial

United Congregational Kerk begrawe. Haar man, Stephen, het haar reeds vroeër ontval.

Sy was ’n nooi Booysen van Middelburg (Kaap) waar sy haar laer- en hoëskoolopleiding ontvang het. Sy het haar onderwysdiploma aan die Perseverance Onderwyskollege in Kimberley behaal.

Sy het daarna in die Oos-Kaap met haar onderwysloopbaan begin en in die vyftigerjare ’n betrekking aan die Laerskool De Villiers op Oudtshoorn aanvaar.

Sy was tot met haar uittrede verbonde aan die Laerskool Bergsig op Oudtshoorn.

In sy huldeblyk het Simon Swigelaar sy skoonsuster as ’n vrou met buitengewone uithouvermoë beskryf. “Sy was nie tevrede met haar kwalifikasies nie en het aanhou studeer. In ’n stadium was sy saam met haar drie seuns op universiteit.”

Sy word oorleef deur vier kinders Stephen, Neil, Maxwell en Step­hanie, kleinkinders en agterklein­kinders.

Log in with your credentials

Forgot your details?