Oud-burgemeester en gemeenskapsmens James Swigelaar oorlede

James Swigelaar as burgemeester.

James Swigelaar as burgemeester.

Deur Garnett Wicomb
Die gemeenskapsmens, James Swigelaar (70), is oorlede.
Dié voormalige parlementslid en oud-burgemeester van die Groter Oudtshoorn is volgens sy seun, James William, gisteroggend in sy badkamer aan ’n hartaanval oorlede. Swigelaar het op 5 Februarie vanjaar 70 jaar oud geword.

“My pa was badkamer toe en toe hy ná ’n lang ruk nie uitkom nie, het ek bekommerd geword. Ek het aan die deur geklop en na hom geroep, maar hy het nie geantwoord nie. Ek het later deur die venster gaan kyk en hom op die vloer sien lê. Ek het toe die Polisie gebel om die deur te kom oopmaak, want dit was gesluit,” vertel die jong James.

Volgens Swigelaar se broer, Philip, het sy broer verlede week van ’n pyn in sy bors gekla en dokter toe gegaan.

• James Swigelaar sr is op 5 Februarie 1947 in Noord-Einde op Oudtshoorn gebore.
Hy was in die tagtigerjare vir twee termyne in die parlement en later ook onderburgemeester en burgemeester van die Groter Oudtshoorn.

Hy was baie betrokke in sy gemeenskap en het hom die laaste jare beywer om inwoners wat destyds as gevolg van die groepsgebiedewet verskuif is, met hul grondeise te help.

Die huidige burgemeester van Oudtshoorn, Colan Sylvester, het Swigelaar se skielike dood as ’n baie groot skok bestempel.

“Oudtshoorn het ’n groot leier en langsdienende senior raadslid verloor. Sy bydrae tot die nuwe demokratiese leierskap van die dorp sal vir altyd onthou word. Hy was ’n idealistiese politikus wat altyd goed voorbereid na raadsvergaderings gekom het vir taai debatte om die belange van inwoners van die

Groter Oudtshoorn te bevorder. Hy sal beslis gemis word.”
Swigelaar word deur sy vrou, Flora, drie kinders, Florentina, Jamy-Lee en James William, twee broers, Philip en Charles, asook drie susters, Laura, Elizabeth en Suzette, oorleef.

Begrafnisreëlings was teen druktyd van Die Hoorn nog nie bekend nie.

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2017. Digitale projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?