Oorweldigende blyke van medelye en ondersteuning

DIE ondersteuning en blyke van medelye deur onder meer die gemeenskap van Oudtshoorn met die dood van sy vrou, Lulu van Greunen, op 6 Maart in Thailand was oorweldingend, het André van Greunen, bekende sakeman van Oudtshoorn, Dinsdag gesê nadat haar liggaam die vorige dag op George veras is.

“Mense uit verskeie oorde het ons in groot getalle besoek, gebel en SMS’e, WhatsApp’s, blomme en kaartjies gestuur.”

André het vertel van die moeilike tyd wat agter die rug is ná haar onverwagse dood en die moeite wat gedoen is en groot uitgawes wat aangegaan is om haar liggaam in Suid-Afrika terug op Oudtshoorn te kry. “Dit is egter vir my en die familie baie belangrik dat ons op ’n waardige wyse van haar afskeid kon neem. Sy het dit verdien.”

Hy sê ’n nadoodse ondersoek het aangetoon dat ’n bloedklont in Lulu se longe haar lewe geëis het.

André sê hy weet nie wat hy sou gedoen het sonder die ondersteuning en bystand van Blain en Ilse de Villiers, wat saam met hom en Lulu in Thailand gaan vakansie hou het.

“Nadat ek Lulu op die hotelkamer se vloer aangetref het, het ek vir Blain en Ilse, wat ’n verpleegkundige is, gaan roep. Sy het dadelik beheer oor die situasie geneem en gedoen wat gedoen kon word. Daarna het hulle my ook bygestaan met die Thai-se polisie wat nie baie simpatiek was nie. Hulle het my ondersteun totdat my dogters daar aangekom het. ’n Baie groot dankie aan Blain en Ilse.”

Nadat Tessa, Donna-Lida en Petro van hul ma se dood gehoor het, het hulle so gou moontlik na Thailand gevlieg om hul pa by te staan.

André was ook vol lof en dank vir Irene Vermeulen van Olivier & Vermeulen Begrafnisdienste wat hom gehelp het om Lulu se liggaam terug in Suid-Afrika te kry. “Sy was uiters professioneel. Sy het met AsiaOne Funeral Home in Thailand saamge-werk.

Selfs hulle het vir my gesê sy was baie professioneel.”

Hy het ook groot waardering uitgespreek teenoor dr Wessel Vermeulen.

“Hy is al 20 jaar lank ons huis- dokter. Hy het altyd vir Lulu, wat verskeie gesondheidsprobleme gehad het, oor die jare met toewyding en omgee behandel. Hy beteken ook op ’n persoonlike vlak baie vir my.”

Hy het voorts vir ds Andries Pot-gieter van die NG Kerk Welgeluk bedank vir die mooi roudiens wat hy vir Lulu op Saterdag, 24

Maart, gehou het asook vir die New Born Messengers vir hul pragtige koorsang.

“Laaste maar nie die minste nie, baie dankie aan Tessa, Donna-Lida en Petro wat ondanks hul eie hartseer daar is vir my.”

Mooi huldeblyk aan Lulu van Greunen

Louis Willeman skryf namens Timbercity se personeel:
Eerstens wil ek net dankie sê vir André dat hy 45 jaar gelede so ’n mooi blom uit die Elof-tuin gepluk het.
Tannie Lulu, soos sy alom onder die personeel bekend was, was as mede-eienaar ’n wonderlike vriend en kollega.

Daar word gesê agter elke sukses-volle man staan ’n goeie vrou, maar in hierdie geval wil ek sê het ’n reus van ’n vrou gestaan.
Siek met baie pyn, waar kry jy tannie Lulu? Agter haar lessenaar besig om haar dagtaak te verrig. ’n Vrou wat bemind was onder die personeel.

Sy sal onthou word vir haar geselsies met die personeel op die vloer en in die stoor tot op die Vrydag voordat sy en André oorsee vertrek het.

Sy het altyd opgekom vir die personeel as sy sou voel dat daar onnodig op hul tone getrap word.

Almal het eers hul lot by haar bekla en dan moes sy die probleem na haar man neem.

Maar soos ons weet, het die groot tuinier op 6 Maart die mooiste roos in die Van Greunens se tuin gepluk.

Nou is haar stem stil, maar sy sal altyd in ons gedagtes voortleef. Ons sal haar altyd sien agter haar lessenaar.

Ek wil ons Hemelse Vader dankie sê dat hy so ’n persoon op ons lewenspad geplaas het. Rus in vrede tannie Lulu, ons sal u mis!

image description

Log in with your credentials

Forgot your details?