‘Ons wil seker maak dat Josh se lewe betekenis het’

Topkonsert op Oudtshoorn ter ere aan Josh Pharaoh

Bo: Die bedroefde familie van Josh Pharaoh (9) bid buite die SANW-uitstalling by vanjaar se KKNK.                          Foto: Liesel le Roux Onder: Josh Pharaoh wat verlede jaar tydens die KKNK gesterf het.

Bo: Die bedroefde familie van Josh Pharaoh (9) bid buite die SANW-uitstalling by vanjaar se KKNK. Foto: Liesel le Roux
Onder: Josh Pharaoh wat verlede jaar tydens die KKNK gesterf het.

9 Josh2

Deur Liesel le Roux
HULLE wil met die opbrengs van ’n konsert wat Saterdagaand op Oudtshoorn plaasvind, iets positief laat ontstaan uit die tragedie van Josh Pharaoh (9) se dood tydens die KKNK verlede jaar, sê Josh se oupa, dr Hamilton Pharaoh.

Dr Pharaoh en ander familielede bring Saterdag-aand ’n span gedugte kunstenaars, ’n orkes en twee kore na die Oudtshoorn Burgersentrum vir die Adopt a Star Show, wat ter herinnering aan Josh aangebied word en ten doel het om ’n kind of kinders van Oudtshoorn deur ’n beurs te ondersteun.

Saterdag sal dit presies ’n jaar wees nadat Josh op 14 April 2017 in ’n pantservoertuig by die SANW-uitstalling by die KKNK beseer is. Hy het twee dae later gesterf.

Die konsert word aangebied deur die The Foundation for Communities of Excellence (TFFCOE), ’n stigting wat deur dr Pharaoh en sy familie op die been gebring is.

• Familielede van Josh het op die eerste dag van vanjaar se KKNK ’n vreedsame protesoptog op Oudtshoorn gehou deur van die hoek van Baron van Reedestraat en Voortrekkerweg met plakkate tot by die SANW-uitstalling by die Kuierbuurt te stap.

Die hekke van die uitstalling, wat vroeër die oggend oop was vir besoekers, was egter gesluit toe die groep daar opdaag. Hulle moes hul plakkate teen die draad buite die uitstalling plaas en het daarna buite die heining van die uitstalling saamgebid.

Dr Pharaoh sê die familie soek steeds antwoorde oor hoe Josh in die pantservoertuig beseer is. Lui-dens ’n protesverklaring, wat hy voor die protes-optog voorgelees het, is die familie op sosiale media en elders verwyt dat Josh sonder toesig was toe hy beseer is; iets wat volgens hom onwaar is.

“Vandag hoop ons dat daar net so duidelik berig sal word dat Josh ’n gehoorsame, dierbare en lief-devolle seun was wat die grootste onreg aangedoen was deurdat hy sy lewe verloor het. Dat hy met toestemming in die pantserwa geklim het met ’n offisier van die weermag wat saam met hom ingeklim het. Toe hy dus beseer geraak het, was hy nie alleen in die pantserwa nie.

Ons wil dit onomwonde stel dat ons nie sal rus totdat Josh en ons as familie se naam in ere herstel word en aan ons verduidelik is hoe ons geliefde Josh beseer is nie,” het die protesverklaring onder meer gelui.

“Josh, ons engelkind, is op ’n traumatiese wyse van ons weggeneem en ons is vandag hier om seker te maak dat Josh en sy lewe betekenis het. Dat dit wat met Josh gebeur het, nie net ’n insident word wat vergete raak in die statistieke van tragiese gebeurtenisse nie.”

Pharaoh het ook gesê hulle is van mening die feit dat die SANW verlede jaar voortgegaan het met hul uitstalling ná Josh se besering en dood dui op ’n gebrek aan sensitiwiteit, respek en eerbied vir wat op 14 April gebeur het.

’n Verteenwoordiger van die SANW wat teenwoordig was by die protesoptrede, het by navraag van Die Hoorn gesê dat hulle nie gemagtig is om te kan reageer op die oggend se gebeure nie.

• Die volledige protesverklaring namens die Pharaoh- en Cedras-familie kan gelees word by http://diehoorn.com/nuus/ons-wil-seker-maak-dat-josh-se-lewe-betekenis-het/

• Adopt a Star Show begin om 19:00 in die Oudtshoorn Burgersentrum. Toegang is R120.

Kaartjies sal ook by die deure beskikbaar wees.

Navrae kan gerig word aan Hamilton Pharaoh by sel 0735994733) of Melisa Kennedy by sel 0724591191.

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2018. Digitale projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?