‘ ’n Dienskneg van mense’

Raadslid Pieter Luiters (68) wat Saterdag oorlede is.               Foto verskaf

Raadslid Pieter Luiters (68) wat Saterdag oorlede is. Foto verskaf

Deur Liesel le Roux
Die Oudtshoorn Munisipaliteit se langsdienende raadslid, Pieter Luiters (68) is Saterdag oorlede nadat hy geruime tyd siek was aan kanker.

Luidens ’n verklaring van die munisipaliteit is hy Saterdag net voor 12:00 by sy huis oorlede. Luiters was die hoofsweep van die DA, die wyks­raadslid vir Wyk 13, lid van die Bur­gemeestersko­mitee en voorsitter van die strategiese diens­te-komitee. Hy was van 2000 tot 2005 en weer van 2012 raadslid van Oudtshoorn en tussen 2006 en 2011 raads­lid van die Eden Distriksmunisipaliteit. Dit is altesame 17 jaar van ononderbroke diens as raadslid van die ANC (tot in 2013) en die DA.

Raadslede van verskillende politieke partye het Dinsdagoggend by ’n raads­vergadering hulde gebring aan Luiters.

“Ons is diep geraak deur die verlies van ’n kollega wat die Groter Oudtshoorn met trots en waardigheid gedien het,” het die burgemeester, Colan Sylvester, gesê. “Hy laat ’n groot leemte wat moeilik sal wees om te vul. Hy sal onthou word dat hy sy lewe daaraan gewy het om ’n dienskneg van mense te wees,” het Colan Sylvester, burgemeester, gesê.

Die ANC se hoofsweep in die Oudts­hoorn-raad, Nondumiso Gunguluza, wat saam met Luiters as ANC-raadslede gedien het, het gesê Luiters was ’n merkwaardige man: “Hy het ’n goeie sin vir humor gehad; Hy was ’n kollega en ’n pa vir my, hy het sy standpunt verdedig en passievol gedebatteer tydens raadbespre­kings.”

Lluwellyn Coetzee, senior bestuurder: strategiese dienste van die munisipaliteit wat saam met Luiters in die strategiese dienste-komitee gedien het, sê hy sal hom onthou as iemand wat vurig kon debatteer oor kwessies wat ons gemeenskap raak. “Sy opofferinge het deur die jare ’n beter lewe vir baie mense geskep. Sy nalatenskap is een van onbaatsugtigheid en toewyding aan sy visie vir Oudtshoorn.”

Luiters word oorleef deur sy vrou Johanna met wie hy 40 jaar lank getroud was, en kinders Ricardo, Anthea en Fernando.

’n Gedenkdiens vind vandag (1 Maart) plaas by die Christelike Herlewing Kerk in Bridgton. Sy begrafnisdiens is Saterdag om 09:00 by sy huis in Tierweg 759 in Bridgton, Oudtshoorn, en om 10:00 by die Christelike Herlewing Kerk.

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2018. Digitale projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?