Kilogramme bottelproppe!

Drie Oudtshoorniete by van die sakkevol plastiek-bottelproppies wat weekliks op die dorp bymekaargemaak word vir ’n rolstoelprojek wat met proppies “betaal” vir rolstoele. Van links is Trudy en Mike Lamont, en Ben Burger. Foto: Liesel le Roux

Drie Oudtshoorniete by van die sakkevol plastiek-bottelproppies wat weekliks op die dorp bymekaargemaak word vir ’n rolstoelprojek wat met proppies “betaal” vir rolstoele. Van links is Trudy en Mike Lamont, en Ben Burger. Foto: Liesel le Roux

Deur Liesel le Roux
Een rolstoel vir 450 kg plastiekproppies en -doppies. Dit is die kern van ’n gemeenskapsprojek waardeur 12 mense van Calitzdorp, Oudthoorn en ook elders die afgelope drie jaar rolstoele ontvang het!

Volgens Briëtte Barry van Calitzdorp, koördineerder van die projek, is dit geïnisieer deur die NG Kerk Ca­litzdorp, maar is die hele Calitzdorp-gemeenskap deesdae betrokke, ter­wyl verskeie Oudtshoorniete ook fluks proppies bymekaarmaak. Sy sê harde plastiekproppies en doppies soos van melk- en koeldrankbottels en -houers, asook van skoonheids­produkte en tandepasta is geskik.

’n Afgeeplek op Oudtshoorn vir proppies is in Joubertstraat 12 waar Mike en Trudy Lamont woon.
“Daar is baie proppies nodig vir ’n rolstoel,” sê Mike. Hy skat 450 kg proppies is gelykstaande aan sowat 40 groot sakke vol.

Mike gaan laai elke week op verskillende plekke proppies op terwyl Trudy vertel dat sy plastiekproppies oral waar sy gaan, optel. “Dit het al tweede natuur geword.”

Nog ’n Oudtshoorniet wat groot hoeveelhede proppies bymekaarmaak, is Ben Burger. Hy vertel dat hy elke dag 10 km stap en tydens sy staptogte dié proppies optel.

“Daar is verskeie beweegredes waarom ek dit doen. Dit kos my niks nie en daarmee help ek my naaste. In ’n mate is ek daarmee ook besig om die besoedeling van die omgewing teen te werk. En ek kry oefening wanneer ek 10 km loop en vir elke proppie en moet buk om dit op te tel.”

Hy sê hy lag dikwels vir die manier waarop mense teenoor hom reageer as hy so loop en proppies optel. Baie mense beskou hom as ’n droster wat goed in die straat optel, en daar is ook al enkelinge wat aangebied het om vir hom te help optel teen betaling! “Ek glimlag maar net vir mense se gedragspatrone. Daar is egter maar min mense wat werklik navraag doen oor wat ek doen as ek die proppies optel.”

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2017. Digitale projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?