Hoe gesond is die NG Kerk op Oudtshoorn?

Higgo Jacobs gesels met Smuts van Rensburg en Jan Marais

DIE tendens van dalende lidmaatgetalle van die NG Kerk landwyd duik telkens in nuusberigte en briewekolomme op. Dit wil voorkom asof min NG-gemeentes hieraan kan ontsnap.

Die Kerkbode berig dat die getal lidmate van die NG Kerk tussen 1986 en 2010 met 23,8% gedaal het – van 1,4 miljoen tot 1,1 miljoen. In sy boek Fluit-fluit, is die kerk uit? vra die voormalige redakteur van Die Kerkbode, dr Fritz Gaum, dié vraag oor die toekoms van die kerk. Voeg hierby die bewering van die bekende demograaf van Pretoria, prof Flip Smit, dat wit Afrikaanssprekendes teen 2030 slegs 1,8% van die land se totale bevol­king sal uitmaak. Lidmate van die NG Kerk kan met reg vra: Hoe lyk die toekoms van hul kerk?

Die Hoorn het vandeesweek by ds Smuts van Rensburg, voorsitter van die ring van die NG Kerke van Oudtshoorn, asook by ds Jan Marais van die Oudtshoorn Wes-gemeente gaan uitvind wat die stand van getalle, fi­nan­sies, ens by die 10 gemeentes binne die ring is.

Die 10 gemeentes is die NG Moederkerk, die NG Kerk Oudtshoorn-Wes, NG Kerk Oudtshoorn-Suid, NG Kerk Oudtshoorn-Noord, NG Kerk Welgeluk, NG Kerk Park, NG Kerk Calitzdorp, NG Kerk Volmoed, NG Kerk Kangovalleie en die NG Kerk De Rust. Dié 10 gemeentes het 13 leraars tussen hulle.

In 2016 was daar 4 485 belydende lidmate en 920 dooplidmate binne die ring. As dit vergelyk word met die statistiek van 2011 toe daar 5 844 belydende lidmate en 1 408 dooplidmate was, toon dit ’n afname van 25,5%. Dit is min of meer in ooreenstemming wat landwyd met die NG Kerk gebeur het.

Beide Van Rensburg en Marais beklemtoon dat daar nie gefokus moet word op getalle of geld nie, maar eerder op die verskil wat die kerk in die gemeenskap maak. Volgens Marais is dieselfde lidmate van die Wes-gemeente wat nog altyd betrokke was by kerkaktiwiteite steeds daarby betrokke. Van Rensburg beklemtoon ook die rol van lidmate in organisasies soos Kansa, die ACVV, kinderhuise en tehuise vir bejaardes. Volgens hulle het die kerk se rol die afgelope 20 jaar aan­sienlik verander.

Waar die NG Kerk voor­heen baie op die voorgrond was en nou met die regering van die dag saamgewerk het, funksioneer dit deesdae meer agter die skerms en onder die radar.

Op ’n vraag watter in­vloed dié dalende ge­talle op die finansies van die onderskeie gemeentes het, sê hulle dat dié daling nie noodwendig ’n daling in geldelike bydraes beteken nie.”

Hulle meen ook bydraes aan die kerk moet in ’n wyer verband gesien word. So byvoorbeeld reflekteer bydraes deur lidmate aan welsynsorganisasies en ander instansies nie in die kerk se boeke nie. Ook hulp in die vorm van kos, klere en komberse aan behoeftiges, is finansiële bydraes en ’n vervulling van die roeping van die kerk, sê Van Rensburg. “Dit is nie ’n geld-ding of ’n syfer-ding nie, maar dit gaan oor die roeping van die kerk. Al daal lidmaatgetalle en -bydraes, sal ons steeds die Here se kerk wees.”

Van Rensburg en Marais was huiwerig om kommentaar te lewer oor hoe die toekoms van die 10 gemeentes oor vyf of 10 jaar gaan lyk.

“Ons hele land beleef onsekere tye en ons kan nie voorspel hoe elkeen van die tien gemeentes binne die Ring van Oudtshoorn teen 2020 of 2030 gaan lyk nie,” sê Marais. “Die realiteite is daar en die kerk probeer nie weghardloop daarvan nie. Solank gemeentelede aktief binne die gemeenskap betrokke bly en help om mense se lewens positief te beïnvloed en te verbeter, vervul die kerk sy roeping, al is ons dan kleiner en minder in getal.”

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2017. Digitale projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?