‘Ek het al baie dreigemente ontvang’

Sekuriteitswagte gesels oor straatkinders in Baron van Reedestraat

Deur Ilze-Marie Gründling
“DIE straatkinders is moeilik om te hanteer. Hulle kan nie sommer net verwyder word nie omdat daar so baie van hulle is en as gevolg van hul ouder­dom.”

So sê Martin Piedt, ’n sekuriteitswag by Karoopot. Hy is een van die talle sekuriteitswagte wat besighede op die dorp aanstel om inwoners en besoekers te beveilig, onder meer teen mense op straat wat hulle lastig val. Piedt het verlede week gaan help toe ’n groep straatkinders ’n groep toeriste buite die CP Nel Museum begin teister en een van die kinders ’n toergids met ’n mes probeer steek het.

“Die straatkinders slaap agter die museum. Volgens hulle is dit hulle plek. Hulle ken al die tye wanneer die toerbusse daar stop – asook wanneer ons wagte aan diens is. Ek het al baie dreigemente ontvang. Daar is nie veel wat ons mag doen nie omdat hulle onder ouderdom is,” sê Piedt.

Jevonia Serfontein, een van Karoopot se be­stuur­ders, glo dat daar nie genoeg maatskaplike werkers in Oudtshoorn is nie.

“Die ouers moet verantwoordelik gehou word vir hul kinders. Ek is self ’n ouer en as die dag kom dat ek nie weet waar my kind is nie, sal ek mal word. Daar moet meer maatskaplike werkers aangestel word en daar moet harder gewerk word om hierdie probleem ordentlik aan te spreek.”

Sy vertel ook dat die meeste mense nie geld gee omdat hulle die kinders jammer kry nie.
“Dit gebeur, ja, maar die meeste van die tyd gee mense geld sodat die kinders weg van hulle kan beweeg. Van die kinders dreig mense. By party restaurante staan hulle buite die vensters en intimideer die mense.”

Die sekuriteitswagte in Baron van Reedestraat loop op en af met swepe. Een van dié wagte wat gevra het om anoniem te bly, vertel dat vandat hy die sweep gekry het, die kinders nie sommer moeilikheid soek nie.

“As hulle verby my stap, sal tot van hulle my groet. Vanaf die aanval by die museum het ons nog nie juis weer straatkinders gesien nie.”

Piedt glo nie dat meer sekuriteitswagte die probleem sal oplos nie. “Die kinders ken nie ver­antwoordelikheid nie. Hulle word nie opgevoed nie. Hulle raak net al hoe meer by die dag en om meer sekuriteitswagte aan te stel, sal nie help nie. Hulle het geen respek vir enigiemand nie.”
• Straatkinders is sedert die voorval by die museum een van die groot besprekingspunte op die dorp. ’n Inwoner het gister­middag vertel dat hy gesien het hoe ’n groep kinders ’n veiligheidswag in Hoogstraat met ’n glasbottel gooi, terwyl ’n kind na bewering Dinsdagaand buite La Dolce Vita, ’n restaurant op die dorp, ’n mes uitgetrek het toe ’n hondjie by die res­taurant geblaf het.

Log in with your credentials

Forgot your details?