EFF oorhandig memorandum aan dorp se hooflanddros

Eric Matroos van die Oudtshoorn EFF lees die memorandum terwyllanddros Jaco Lambrechts toekyk. Tweede van links staan EFF rdl Diswayne Maarman en regs met krukke, Pieter de Bruyn.                          Foto: Garnett Wicomb

Eric Matroos van die Oudtshoorn EFF lees die memorandum terwyllanddros Jaco Lambrechts toekyk. Tweede van links staan EFF rdl Diswayne Maarman en regs met krukke, Pieter de Bruyn. Foto: Garnett Wicomb

Deur Garnett Wicomb
DIE Oudtshoorn-tak van die EFF het verlede Donderdagoggend voor die Oudts­hoorn Landdroshof ’n versoekskrif aan hooflanddros Jaco Lambrechts oor­handig waarin hulle beswaar maak teen die beweerde voorkeurbehandeling van ’n grondeienaar van Volmoed.

Die EFF sê Gert Beneke wat van poging tot moord aangekla word nadat hy glo ’n man omgery en op mense geskiet het, kry voorkeurbehande­ling by die polisie en in die hof.

Volgens die memorandum staan die EFF agter diegene wat nie grond besit nie en volgens hulle “soos diere behandel word”. Die voorval op Volmoed word as rassisties beskou.

Voorts lui die memorandum dat die EFF en familie van Pieter de Bruyn, die man wat omgery is, ongelukkig is met die behandeling wat Beneke na sy inhegtenisname gekry het en die spoedige borgaansoek.

Die memorandum vra die saak moet “professioneel” hanteer word en sê die wet is daar om slagoffers van geweld te ondersteun.
Beneke (65) het na bewering op 10 Maart 2018 vir De Bruyn omgery, en daarna op De Bruyn se vrou, Hester, en nog mense geskiet.

Borgtog van R5 000 is drie dae later aan hom toegestaan.

Volgens Liza Cremer, distrikshof-beheeraanklaer, het die polisie en die staat nie verkeerd opgetree nie en is bewerings dat Beneke voorkeurbehandeling kry van alle waarheid ontbloot.

Volgens haar het die polisie reg opgetree deur Beneke na die hospitaal te neem omdat hy siek was.

“Die polisie het ’n verantwoordelikheid teenoor mense wat hulle in hegtenis neem.”

Cremer sê die staat het sewe dae uitstel gevra vir die borgaansoek, maar die landdros het dit geweier en die volgen­de dag borgtog aan Beneke toegestaan.

Terwyl die groepie EFF-lede verlede Donderdagoggend buite die hof vergader het om hul memorandum aan Lambrechts te oorhandig, het Beneke weer vlugtig in die hof verskyn en later verby hulle gestap sonder dat hulle hom herken het.

Lannddros The-olen November het die saak vir verdere ondersoek tot 25 Mei 2018 uitgestel en Beneke se borg en borgvoorwaardes tot dan verleng.

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2018. Digitale projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?