De Rust Polisie open ’n traumakamer

Die De Rust Polisie kan nou met ’n behoorlike Traumakamer spog wat verlede Donderdag amptelik geo­pen is.

Die kamer, met sy personeel van vrywilligers wat 24 uur van die dag op bystand is om slagoffers van misdaad by te staan, is tesame met die 16 dae-veldtog van aktivisme teen geweld teen vroue en kinders geopen deur die bevelvoerder van die Eden Cluster, genl.maj. Oswald Reddy.

Daar word reeds sedert 1999 gepoog om ’n behoorlike trauma­kamer op De Rust in te rig. In 2002 is ’n houthuisie ingerig wat oor die jare deur wind en weer verniel is.

Volgens Fransien Smit, een van die vrywilligers, het hulle self lank gewag op dié dag.

“Ons vrywilligers is beskikbaar, bekwaam en toegewyd daaraan om mense nou ten volle te ondersteun,” het sy gesê.

Reddy het op sy beurt almal se harde werk en toewyding tydens die aanloop tot die “wonderlike dag” geloof.

“In ons land is die syfers van geweld teen vroue en kinders hoog, en daarom is die ontstaan van sulke traumakamers noodsaaklik en belangrik. Dit moet ’n plek van hoop en rus vir alle slagoffers van geweld en misdaad wees,” het Reddy gesê.

Hy het gemeenskapslede aangemoedig om die kamer te “omarm”, dit deel te maak van die gemeenskap, om eienaarskap daarvan te neem en om dit op te pas.

“Maak seker dat elke persoon wat hierdie kamer of jul dienste benodig, kan voel dat daar iemand hier is wat na hulle sal luister, hulle sal ondersteun en hulle sal liefhê,” het hy gesê.

 

(Deur Stefan Skapie Goosen)

Log in with your credentials

Forgot your details?