Buurtwag wil Wesbank veilig hou

Wesbank North group 20171208_145153
Inwoners gevra om betrokke te raak by WhatsApp-groepe

Deur Liesel le Roux
MISDAAD in Wesbank het met sowat 30 persent geval sedert ’n groep inwoners enkele maande gelede begin het om ’n buurtwag in dié woonbuurt aan die gang te kry.

Dit was van die inligting wat Maandagaand tydens ’n inwonersvergadering in die NG Kerk Wes se saal bekend gemaak is.

Die doel van so ’n buurtwag is om Wesbank veilig te maak en veilig te hou vir al sy inwoners, sê Pieter Westraad, voorsitter van AfriForum Oudts­hoorn en lid van die Buurtwagkomitee vir Wesbank. “Dié inisiatief geskied in samewerking en met die steun van die Polisie, sekuriteitsdienste en AfriForum,” sê Westraad.

Die buurtwag het sy ontstaan gehad toe een van die gebied se inwoners, Amanda Pieterse, ’n Whats­App-groep vir Wesbank begin het waar inwoners mekaar kon inlig oor enige misdaadvoorval of verdagte persone in Wesbank.

Dit het intussen gegroei tot drie afsonderlike WhatsApp-groepe – twee vir Wesbank-Suid (suid van Voortrekkerweg) en een vir Wesbank-Noord (noord van Voortrekkerweg). Die groepe hou inwoners ook op hoogte van noodnommers en ander belangrike inligting.

’n Buurtwagkomitee is intussen ook op die been gebring. Volgens Westraad sal dit met die betrokkenheid van AfriForum eersdaags as ’n volwaardige buurtwagstelsel funksioneer met gereelde patrollies wat in radioverbinding met mekaar sal wees. Inwoners sal ook opleiding in selfverdedi­gings­klasse kan ontvang of opgelei kan word oor hoe om tydens ’n misdaad-insident op te tree. “Die groot uitdaging nou egter is om soveel as moontlik inwoners uit Wesbank by die drie Whats­App-groepe betrokke te kry,” sê Westraad.

Inwoners van Wesbank word versoek om hul selfoonnommers en woonadres aan Westraad te stuur by 081 729 1490 om op die regte groep bygevoeg te word.

Westraad sê hy hoop dat die hele Oudtshoorn, Dysseldorp, De Rust en die landelike gebiede uiteindelik by so ’n buurtwagstelsel betrokke sal raak en dat inwoners so saam sal help om hul woonbuurte veilig te hou.

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2017. Digitale projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?