Bure woel en werskaf om skoon te maak!

Hard aan die werk! Van links maak Denzel Prins, Hennie du Plessis-Sansom, Frank Busack, Dean du Plessis-Sansom en Rochelle Prins sypaadjie skoon.   Foto: Ilze-Mari Gründling

Hard aan die werk! Van links maak Denzel Prins, Hennie du Plessis-Sansom, Frank Busack, Dean du Plessis-Sansom en Rochelle Prins sypaadjie skoon. Foto: Ilze-Mari Gründling

Deur Ilze-Mari Gründling
DIE inwoners van Brownstraat 17 en 19 in Oudts­hoorn-Noord kla nie, hulle wikkel en woel behoorlik om die gebied om hulle huise skoon te maak.

Hennie du Plessis-Sansom het sewe maande gelede saam met sy lewensmaat, Dean, Oudts­hoorn toe getrek en sê hy was verstom om te sien hoe vuil die strate is.

“Die buurt het wonderlike mense en dit is rustig, maar die vullis is ’n groot kopseer. Toe besluit ek en my buurman, Denzel Prins, om self te begin skoonmaak.”

Du Plessis-Sansom en Prins het verlede Woensdag en Donderdag meer as vier swartsakke vullis weggery. Hulle is ook besig om die ongeplaveide gedeelte van die sypaadjie skoon te maak deur bossies uit te trek.

“Ek het nou die dag self geloop en gemors optel – ek het vêr geloop. Soos wat mens skoonmaak, so gooi ander maar net weer neer,” sê Sansom.

Volgens Prins het hulle al voorheen versoeke aan die munisipaliteit gestuur om die gebied te help skoon hou, maar ontvang hulle net leë beloftes.

“Ons probeer al vir maande om die munisipaliteit net so ver te kry om hier skoon te maak. Hulle maak skoon in ander dele van die dorp, maar nie hier nie. Dit is ’n seeroog en slange broei in die bosse. Ons het besluit om self skoon te maak, want ons kan nie vir ewig vir die munisipaliteit wag nie,” sê Prins.
Die huishoudings hoop dat hulle ander sal aansteek met hul skoonmakery. Du Plessis-Sansom wil graag hê dat ander sal saamspan.

“Ons harte lê klaar hier en dis ’n pragtige dorp. Dink net hoe wonderlik dit sal wees as almal saamspan en die dorp skoon hou. Niemand wil in ’n vuil plek bly nie.”

Prins vertel dat hy sy kinders van kleintyd af leer om skoon te maak.
“Dit is belangrik om ’n plek skoon te maak. Daar is trots daarin. Party mense gooi net vullis neer en gee nie om nie. Dit moet verander.”

Volgens Aurelia Oliphant, woordvoerder van die Oudtshoorn Munisipaliteit, is die munisipaliteit bewus van die feit dat nie alle gebiede deur die skoonmaakspan gedek word nie.

“As sulks is ons opreg dankbaar teenoor die gemeenskap vir die feit dat hulle die raad en munisipaliteit tegemoet kom en help met die oprui­ming in hulle gebied. Die plan is om met die uitbreiding en herstel van die munisipaliteit in die toekoms te kyk na gebiede soos Brownstraat en andere.”

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2017. Digitale projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?