Beursie en selfoon veilig terug by eienaar

Niel Els (links) by die twee mans wat sy selfoon en beursie opgepas het tot hulle hom gekry het, Hendrik September (middel) en Piet Lewin.   Foto verskaf

Niel Els (links) by die twee mans wat sy selfoon en beursie opgepas het tot hulle hom gekry het, Hendrik September (middel) en Piet Lewin. Foto verskaf

Deur Liesel le Roux
“DIT was al sowat ’n halfuur later, en ek het alles net so gelos en teruggejaag. My hele lewe was in daardie beursie!”

So vertel Niel Els, mede-eienaar van die Turnberry Boutique Hotel op Oudtshoorn, oor sy reaksie toe hy Saterdag wou betaal by ’n winkel op Oudtshoorn, en by die kasregister agtergekom het sy beursie en selfoon is nie by hom nie.

Els het egter nie nodig gehad om te skrik nie, want sy beursie en selfoon is intussen ’n halfuur lank deur twee Oudtshoorniete, Hendrik September en Piet Lewin, op Checkers se parkeerterrein opgepas terwyl hulle probeer het om hom in die hande te kry.

Els sê hy het besef hy het waarskynlik die selfoon en beursie in ’n trollie op die parkeerterrein vergeet nadat hy kort tevore inkopies by Checkers gedoen het.

“Toe ek op Checkers se parkeer­terrein aankom, het twee vreemde mans by die trollie gestaan met my selfoon en beursie veilig by hulle!”

September, ’n Oudtshoorniet wat net na Els by Checkers uitgestap het, en Lewin, wat vir die maatskappy werk in beheer van Checkers se trollies, het die selfoon en beursie in die trollie gesien, waarna September die noodnommer op die selfoon geskakel het.

Hy het so by Els se metgesel, Ilze Jacobs, uitgekom.

Jacobs en Els het bykans gelyktydig op die parkeerterrein aangekom.

“Hierdie mense is ware helde,” het ’n verligte Els later die dag op sy Facebook-bladsy geskryf.

Hy sê hy het net weer besef dat Oudtshoorn ’n veilige dorp is en dat daar regtig baie goeie mense op die dorp woon.

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2018. Digitale projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?