Afskeid van die merkwaardige Juffrou Corrie

Corrie Miller.  Foto verskaf

Corrie Miller. Foto verskaf

Deur Garnett Wicomb
’N WOORDVAAR­DIGE vrou, hoflik, sjiek, elegant en sjarmant.

So het vader Leon Mostert Saterdag die 84-jarige Christina Ro­setta Miller, alom bekend as Juffrou Corrie, tydens haar uitvaartmis in die St Niklaas Rooms-Katolieke Kerk op Oudtshoorn beskryf.
Miller is op 20 Oktober na ’n siekbed van sowat ses maande oorlede.

“Ek het gesorg dat my skoene altyd blink wanneer ek juffrou Corrie besoek het. Ek het so baie by haar geleer en in die laaste tyd veral oor die dood. Sy kon dinge uitdruk soos min ander mense kon,” het Mostert gesê.

Een van haar dogters, Denise, het haar ma as ’n vrou van uitnemendheid beskryf. “My ma was ’n gemeenskapswerker wat by soveel projekte in die kerk en gemeenskap betrokke was.

“Sy was ’n vrou met soveel moed en ’n aan­sporing vir baie. Sy was ’n allemansvriend en altyd bereid om te gee. Sy het voetspore agtergelaat wat moeilik sal wees om in te trap.”

Miller, ’n nooi Strydom, is op die plaas Kruisrivier-Wes gebore. Sy het aan die Hoërskool Môrester gematrikuleer en haar aan die Athlone Kollege in die Paarl as onderwyseres bekwaam.

Sy het op Matjiesrivier, Ladismith en Mosselbaai skoolgehou en daarna vir baie jare aan die Sacred Heart Primêre Skool op Oudtshoorn waar sy in 1993 die tuig neergelê het. Haar eggenoot, Cyril, het haar in 2003 ontval.

Sy laat agt susters Betty, Rita, Wanda, Linda, Joan, Steynell, Patsy, Renee, ’n broer, Joey, drie dogters, Adri-Joan, Berinice, Denise en Edwina, asook vier kleinkinders agter.

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2017. Digitale projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?