Maak so met huise, strukture ouer as 60

Eureka Barnard (links voor), gasspreker, en Hazel Jonker (regs voor), voorsitter van Heritage Oudtshoorn Erfenis - HOE, saam met agter van links, raadslede George Kersop en Johan Fourie, en Johan Smit, ook van HOE.

Eureka Barnard (links voor), gasspreker, en Hazel Jonker (regs voor), voorsitter van Heritage Oudtshoorn Erfenis – HOE, saam met agter van links, raadslede George Kersop en Johan Fourie, en Johan Smit, ook van HOE.

Eiendomsagente moet kopers inlig

Ilze-Mari Gründling
OUDTSHOORN se “erfenisbewaarders”, die organisasie Heritage Oudtshoorn Erfenis (HOE) het onlangs by ’n werksessie die pu­bliek, eiendomsagente en boukontrakteurs ingelig oor die implika­sies van die Wet op Erfenis en hoe dit strukture, huise en geboue van 60 jaar en ouer raak.

Daar word van eiendomsagente verwag om voornemende kopers van sulke ou geboue oor die vereistes van die wetgewing in te lig.

Inwoners van De Rust en Calitzdorp, asook lede van Erfenis Wes-Kaap (EWK) was by die werksessie teenwoordig.

Die gasspreker, Eureka Barnard, is ’n boorling van Oudtshoorn en het ’n meestersgraad in Kulturele Geskiedenis met Volksboukunde. Sy was van 1993 tot 1998 die hoof van die CP Nel Museum op Oudtshoorn.

Volgens Barnard word ’n gebou as ’n erfenis gelys sodra dit 60 jaar oud is. “Dit wil sê, vanaf die datum van konstruksie. Dit is belangrik om te weet hoekom dit van belang is as jou huis as ’n erfenis bestempel word,” het Barnard gesê.

Volgens haar is dit ook hoekom sekere huise duurder is as ander. Hoe ouer ’n huis, hoe duurder is dit om te koop.

“Daar is verskeie vlakke van gradering. Die om­gewing en omliggende huise word ook in ag geneem. Ons het al baie aansoeke vir sloping ont­vang en die feit van die saak is dat die meeste geboue nie gesloop kan word nie as gevolg van hier­die vlakke van kriteria. Jy moet eers ’n permit hê voordat enigiets aan die gebou gedoen kan word. Kultuur en geskiedenis moet tot in ’n mate bewaar word.”

Eienaars en boukontrakteurs kan gepenaliseer word as daar veranderinge aan ’n gebou gemaak word sonder die nodige permitte.

“Volgens wet mag ’n stop work-bevel uitgereik word. Dit beteken dat alle konstruksiewerk gestaak moet word en die gebou terug na die oorspronklike plan verander moet word. Jy kan ook gepenaliseer word op ’n renteskaal vir elke dag wat die regstel­lings nie aan die oorspronklike plan voldoen nie.
“Erfenis Wes-Kaap (EWK) is die enigste organi­sasie in die Wes-Kaap wat toestemming mag gee vir veranderings aan ’n gebou ouer as 60 jaar. ”

Volgens Hazel Jonker, voorsitter van HOE, is daar in die 1960’s baie uitgebrei op die dorp en dit het dinge inge­wik­keld gemaak.

“Tussen die middedorp en die hospitale is daar ’n probleem met nuwe, moderne huise wat tussen historiese huise staan. Die hele area kan dus nie as ’n erfenisgebied bestempel word nie.
“Erfenis Wes-Kaap beoog om Oudtshoorn op te deel en in fases te gradeer.”
By die werksessie is ook verduidelik hoe men­se hul eie huise kan restoureer of opgradeer.
HOE is geregi­streer by Erfenis Wes-Kaap en vergader elke tweede Dinsdag van die maand.
Eiendomsagente is wel­kom om dié verga­derings by Johan Smit Argitekte in die Prince Vintcent-gebou by te woon.

Vir meer inligting kontak Johan Smit by 044 272 3630.
Vir algemene navrae en inligting oor permitte kan Jonker gekontak word by 082 651 8037.

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2018. Digitale projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?