Moenie dié ou geboue sloop nie

Deur Liesel le Roux
GEEN huis of enige struktuur wat 60 jaar of ouer is, mag gesloop word of enige veranderinge daaraan aan­gebring word sonder die nodige permit nie – nie op die dorp nie, maar ook nie op enige plaas of plek buite ’n dorp nie.

Hazel Jonker, voorsitter van die Groter Oudtshoorn se erfenisliggaam, Heritage Oudtshoorn Erfenis (HOE), sê alle strukture van 60 jaar of ouer word deur wetgewing beskerm. Geen eienaar of ontwikkelaar mag self besluit wat hulle wil sloop of hoe hulle wil verander nie. Hulle kan ’n aansoek voorlê aan die munisipaliteit wat dit na HOE sal verwys vir ondersoek en terugvoer.

“Indien ’n gebou in so ’n toestand is dat dit nie meer gered kan word nie, sal die nodige permit uitgereik word dat dit gesloop kan word.”

Jonker sê HOE wil graag inwoners – en so ook die boere van die omgewing – inlig oor die regte prosesse en is altyd beskikbaar om te help. “Enig­iemand wat wonder of ’n gebou 60 jaar of ouer is, kan met HOE in aanraking kom en ons sal help om dit vas te stel.”

Jonker sê eiendoms­agente het ook ’n groot verantwoordelikheid teenoor die streek se erfenisgeboue en kan help om intrekkers bewus te maak daarvan.

“Die Klein Karoo-landskap is deel van ons gebied se toerisme-aantrekkingskrag. Veral ge­boue van voor die vol- ­struis­veerbloeitydperk (voor 1890) is kosbaar. Baie daarvan staan nog op plase en dra by tot daardie ambience waarvan besoekers hou.”

Rodney Booysen, se-nior boubeheerbeampte by die Oudtshoorn Munisipaliteit, sê dit is belangrik dat mense die na­sionale erfeniswet (Wet 25 van 1999) se Artikel 34 oor strukture moet nakom. Ingevolge dié artikel mag niemand enige struktuur of deel van ’n struktuur ouer as 60 jaar verander of sloop sonder ’n permit van die provinsiale erfenisliggaam, Heritage Western Cape, nie.

“Die munisipaliteit gaan dié wetgewing nou daadwerklik begin afdwing,” sê hy.
Booysen sê die munisipaliteit steun Heritage Oudtshoorn Erfenis wat hulle daarvoor beywer dat die wetgewing toe-gepas moet word.

• Rig navrae vir HOE aan Johan Smit by sel 082 968 6788.

Log in with your credentials

Forgot your details?