Bewaar so huise en strukture ouer as 60 jr

Deur Liesel le Roux
DIE enigste manier om te voorkom dat mense die reg in eie hande neem en onwettig huise en strukture ouer as 60 jaar sloop of sonder toe­stem­ming verander, is deur op­voeding.

So het prof Matilda Burden, ’n kultuur­historikus, Dinsdagaand by ’n byeenkoms van Heritage Oudtshoorn Erfenis (HOE) gesê.

“Kennis is mag,” het sy bygevoeg.

Sy het gesê mense verstaan dikwels nie die waarde van ou geboue en die rol wat dit in die identiteit van ’n dorp of stad en die mense wat daar woon, speel nie.

Volgens haar dra die kultuurerfenis waarbinne ’n mens grootword, in ’n groot mate by tot jou identiteit en is dit ’n belangrike anker wat mense in hul lewens nodig het.

Hierdie kultuurerfenis sluit jou taal, gebruike en tradisies, godsdiens, gesin, huis en jou leefwêreld – ook die beboude omgewing om jou – en die natuur om jou in.

Sy het ook verwys na die belangrikheid van ’n dorp se historiese geboue vir toerisme, en dat men­se dikwels na ’n dorp of stad reis om na die kenmerkende geboue van daardie dorp of stad te gaan kyk. “Dit is daarom belangrik dat toergidse ingelig moet wees oor geboue se geskiedenis,” het sy gesê.

• Mense wat huise of strukture van 60 jaar of ouer wil verander of sloop, moet ’n aansoek by die munisipaliteit indien.

Dié geboue word deur wetgewing beskerm en ’n eienaar of ontwikkelaar kan nie self besluit wat hulle wil sloop of hoe hulle dit wil verander nie.

Die munisipaliteit sal hul aansoek op Oudts­hoorn na HOE verwys vir verdere ondersoek, skakeling met Erfenis Wes-Kaap en terugvoer daarna.

Indien ’n gebou in so ’n toestand is dat dit nie meer gered kan word nie, sal ’n permit uitgereik word dat dit gesloop kan word.

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2017. Digitale projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?