6 Riglyne vir voornemende verkopers

Young happy couple shopping for new home

Baie mense wat vir die eerste keer ’n huis verkoop, wonder wat hulle op die eerste skoudag kan verwag.

Adrian Goslett, streeksbestuurder en uitvoerende hoof van RE/MAX van Suider-Afrika, gee riglyne vir voornemende verkopers.

1. Moenie by die huis wees nie

Die eerste ding wat verkopers moet doen, is om reëlings te tref om op die skoudag elders te wees. “Voornemende kopers sal baie makliker ’n huis verken as die eienaar nie daar is nie. Dit is die beste om die saak aan die agent oor te laat, sodat die kopers hul tyd kan neem om dit as hul tuiste te visualiseer,” sê Goslett.

2. Verwag die bure daar

Hulle wil eiendomme vergelyk om te sien wat hulle prysgewys kan verwag as hulle hul eiendom in die mark sou sit. En daar sal natuurlik nuuskierige agies ook wees.

3. Bly kontakbaar

Hoewel huiseienaars nie op ’n skoudag daar behoort te wees nie, moet hulle te alle tye telefonies beskikbaar wees ingeval die agent of ’n voornemende koper vrae het.

4. Parkeer jou motor elders

Maak seker dat daar soveel as moontlik gratis parkeerruimte is. Voertuie moet verkieslik by vriende of bure geparkeer word om plek te maak vir voornemende kopers en die eiendomsagent.

5. Kry terugvoering van die agent

Die eiendomsagent sal kommentaar kry van die voornemende kopers wat na die huis gekyk het en sal in staat wees om dié terugvoering aan die verkoper te gee. Hierdie inligting kan nuttig wees as ’n aanduiding van die vlak van belangstelling in die eiendom – en of dit nodig sal wees om aanpassings ten opsigte van die prys of die huis self te doen.

6. Wees geduldig

Terwyl die tekort aan geskikte eiendomme die mark in die verkoper se guns druk, neem sommige huise langer om te verkoop.

“ ’n Agent se doelstelling is om ’n huis teen die beste moontlike prys binne die kortste moontlike tydperk te verkoop, maar dit is dalk nie oornag nie. Dit kan een of twee dae neem voordat die aantal besoekers op ’n skoudag lei tot oproepe van kopers wat werklik ernstig is om ’n aanbod te doen,” sê Goslett.

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2017. Digitale projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?