Honderde honde vrek

Hondesiekte slaan sy kloue in die Suid-Kaap in

Dr Reinette du Plooy (regs), ’n veearts van Oudts­hoorn, en dr Karien Botha van die staatsveeartskantoor ondersoek ’n hond Dinsdag tydens ’n uitreik saam met die ­diere-welsynorga­nisasies Oudts-hoorn Diereskut en Oudts- hoorn Dogs in Need om die gemeenskap op te voed oor hondesiekte en om siek honde te identifiseer. Foto: Lemaryn Barendse

Dr Reinette du Plooy (regs), ’n veearts van Oudts­hoorn, en dr Karien Botha van die staatsveeartskantoor ondersoek ’n hond Dinsdag tydens ’n uitreik saam met die ­diere-welsynorga­nisasies Oudtshoorn Diereskut en Oudtshoorn Dogs in Need om die gemeenskap op te voed oor hondesiekte en om siek honde te identifiseer.  Foto: Lemaryn Barendse

Deur Liesel le Roux
HEELWAT meer as 200 honde het reeds in die Oudtshoorn-omgewing gevrek sedert hondesiekte (canine distemper) begin Desember hier uitgebreek het.

Volgens Magda Davel van die Oudtshoorn Diereskut toon hul syfers dat sowat 130 honde reeds in Januarie dood is en meer as 90 in Desember. “Dit is net die honde waarvan ons bewus is, en daar is beslis baie meer,” sê sy.
Dié siekte, wat wyd in die Wes-Kaap uitgebreek het, het reeds honde in De Rust, Dysselsdorp, Prins Albert en die Tuinroete-omgewing geëis.

Honde wat nie teen hondesiekte ingeënt is nie, is vatbaar vir die siekte. Honde wat egter toe hulle klein was en daarna jaarliks ingeënt is, is immuun daarteen.

Dr Reinette du Plooy, ’n veearts van Oudtshoorn, sê haar praktyk sit daagliks sterwende honde uit. Op slegs Dinsdag is 18 honde uitgesit.

Op bladsy 2 verskyn belangrike inligting oor die siekte wat dr Glen Carlisle, veearts van Oudtshoorn, en dr Karlien Botha van die staatsveearts­kantoor, aan Die Hoorn verskaf het.

Vanessa Engelbrecht, voorsitter van die Animal Care Team (ACT), sê dié aansteeklike siekte versprei veral vinnig in gemeenskappe waar daar baie honde is wat nie ingeënt is nie – veral as hulle op dieselfde erf bly – en veral waar honde se immuniteitstelsel swak is en honde vry rondhardloop.

Colleen Smith van Oudtshoorn Dogs in Need sê hulle groep het Maandag en Dinsdag in samewer­king met die staatsveeartskantoor, dr Du Plooy en die Oudtshoorn Die­re­skut verskeie woonbuurte op Oudts­hoorn besoek om inwoners in te lig oor hondesiekte en hoe dit voorkom kan word. “Ons vra mense ook om nie tans honde aan te neem of te koop wat uit Bridgton, Bongolethu en Dysselsdorp kom nie, tensy die honde ’n veearts-boekie het wat bewys dat die hond drie inentings teen hondesiekte gekry het.”

Smith sê hulle beheer hondesiekte tans by die skut deur nuwe honde afsonderlik te hou en die inname van honde te beperk.

• Marlene Malan berig uit Prins Albert dat die Prins Albert-munisipaliteit inwoners gewaarsku het oor die uitbreek van hondesiekte daar.

Luidens ’n verklaring kom dit tans in groot getalle voor en moet eienaars let op die gedrag en welstand van hul diere. “Dit versprei in die lug vanaf die lugweg of deur direkte kontak met die uriene, stoelgang of selfs die vel van gesmette honde, en kom meestal voor by honde jonger as ses maande”.

Log in with your credentials

Forgot your details?