Meer as 100 van Thijs Nel se kunswerke in Pretoria uitgestal

Thijs Nel by een van sy skildery wat voltooiing nader.

Thijs Nel by een van sy skildery wat voltooiing nader.

’N OMVATTENDE uitstalling van Thijs Nel van Oudtshoorn se skilderye, beeldhouwerke en keramiek open môre (Woensdag, 8 Maart) in Pretoria by die Village Ridge Boutique Hotel in Nieu-Muckleneuk.

Nel het Maandag na Pretoria gevlieg om ’n ogie oor die finale voorbereidings vir die uitstalling te hou en om teenwoordig te wees met die opening.

Die kunswerke gaan op ’n voortdurende grondslag in die hotel uitgestal word en bekend staan as die Thijs Nel Art Gallery.

Die hotel behoort aan Chris Bosch, vooraanstaande Suid-Afrikaanse sakeman en kunsversamelaar, en sy vrou, Ilse.

Bosch het tydens Nel se uitstalling in 2012 by Gallery 88 in die Paarl van Nel se skilderye gekoop.

Hy het Nel ’n tyd daarna gekontak en hom al verskeie kere by sy huis op Oudtshoorn besoek. Bosch het van Nel se keramiek en ander kuns-werke aangekoop om in sy boutieks in onder meer Suid-Afrika, Los Angeles en Cork in Ierland te verkoop.

Bosch het ook ’n olyfplaas by Dal Josefat naby die Paarl waar hy olyfprodukte onder die handelsnaam The Olive Factory produseer en wêreldwyd uitvoer. Nel het begin om olyfhouers, -bakkies, -borde en ander soortgelyke keramiek te maak wat nou in Bosch se olyfwinkels te koop is.

Wat hierdie produkte besonders maak, is dat elkeen as’t ware ’n unieke kunswerk is aangesien Nel dit met die hand gemaak word. Volgens die 73-jarige Nel het hy die afgelope jaar of wat al meer as 200 van hierdie produkte gemaak om genoeg voorraad te hê.

Nel sê die geleentheid wat hom te beurt geval het om sy kuns aan ’n wyer gehoor bekend te stel kom nie aldag op ’n kunstenaar se pad nie.

“Ek is dankbaar om dit wat ek as mooi beskou met die wye wêreld te kan deel,” het Nel gesê.

Nel sê die wending in sy loopbaan is ’n groot gebeurtenis vir hom en motiveer hom om aan te hou skep.

Altesame tagtig van Nel se skildery en twintig van sy beeldhouwerke gaan in die Thijs Nel Art Gallery uitgestal word. Die skilderye dateer uit die sewentiger- en tagtigerjare tot skilderye wat hy onlangs voltooi het.

• Hoewel ’n aantal plaaslike kunsversamelaars die afgelope drie jaar van sy werke gekoop het, word die meeste van sy kuns volgens Nel steeds aan vooraanstaande kunsversamelaars in Amerika, Engeland, Frankryk en veral Duitsland verkoop.

Die skilderye gaan op verskeie plekke in die hotel uitgestal word, onder meer in die hotel se voorportaal en in konferensiesale waar dit goeie blootstelling aan onder meer internasionale besoekers aan Suid-Afrika en uitgelese plaaslike gaste sal kry. Van die beeldhouwerke sal ook in die tuin uitgestal word.

Een van Nel se bekendste keramiekbeelde, getiteld “Fontein vir vrede in Afrika” word juis by die Universiteit van Pretoria uitgestal langs die Musaion, die universiteit se konservatorium.

Tydens ’n oorsiguitstalling van Nel se werk in 1993 het hy ’n Silwer Erepenning vir sy bydrae tot kuns in Suid-Afrika ontvang wat deur prof Hennie Joubert aan hom oorhandig is. Die universiteit besit ook ’n versameling van Nel se werke.

• Bosch het aan Die Hoorn gesê hy is opgewonde om deel te wees van ’n uitstalling van ’n kunstenaar met die statuur van Thijs Nel.

“Ek voel dit is nodig dat die kollig weer op Thijs val sodat ’n wyer gehoor aan sy kunswerke blootgestel kan word. Ek glo dit sal goed wees as die kunsgemeenskap weer ’n slag deeglik van hom kennis neem. Hy het oor die jare baie gegee en het nog baie om te gee.”

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2017. Digitale projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?