Harry Julius Daniler

Deur Reindered Visser

Deur Reindered Visser

100 jaar later (30) – Nog ’n bydrae uit Reinderd Visser se navorsing oor die Eerste Wêreldoorlog, met ’n storie oor ’n soldaat en volstruisboer van die Klein Karoo.

HOE moes dit vir ouers wie se seun in die Groot Oorlog gaan veg het, gevoel het wanneer daar ’n klop aan die voor­deur was, en wanneer die deur oopgemaak word manne in uniform voor hulle staan?
Die kans is goed dat hulle dadelik sou vra: “Het ons seun iets oorgekom?” En dan die woorde: “Meneer/Mevrou, ons is jammer om u mee te deel…”

Kan jy jouself hierdie ouers se skok en seer probeer voorstel? Tydens my dienspligtyd as kapelaan moes ek ten minste twee maal, persoonlik aan ’n ma en pa se deur gaan klop om aan hulle die hartseer nuus oor te dra dat hul soldate-seun die hoogste prys betaal het en nie lewend sal terugkom nie. Dit is dán wanneer jy egte pyn sien!

Een so ’n ouerpaar – en hulle was sekerlik een van honderd-duisende ou­er­pare tydens die Eerste Wêreld-Oorlog wie se emosies skielik teen die grond geslinger is met sulke slegte nuus, was Isaac en Rosie Daniler van Ladismith. Hulle moes hoor dat hul seun, Harry, op 22 Mei 1917 in Engeland in ’n motorfietsongeluk dood is. Harry was toe 26 jaar oud.

Ek weet nie hoe die nuus aanvanklik aan hulle oorgedra is nie – was dit tydens ’n persoonlike besoek aan huis soos dit gewoonlik gebeur? Of per tele­gram? Waarskynlik eersgenoemde. Wat ek wel weet, is dat Isaac self daar­na ten minste twee amptelike briewe ontvang het (hulle word in die Oudts­hoorn-museumargiewe bewaar). Die eerste is reeds op 25 Mei 1917 uit Pretoria aan hom gestuur, uit die kantoor van die Minister van Verdediging.

Hierin word daar medelye aan hom betoon deur eerstens die koning van Engeland en die koningin (The Governor-General is commanded by the King to assure you of the true sympathy of his Majesty and the Queen in your sorrow), dan deur die Goewerneur-Gene­raal van Suid-Afrika, Sydney Buxton, en uiteindelik die Minister van Ver­dediging self. Die tweede brief was van Harry se bevelvoerder in Engeland. Hy het dit op 6 Junie 1917 versend en hier­in betoon hy ook sy medelye met Isaac se verlies en sê dat Harry ’n toegewyde soldaat was wie se dienste gemis gaan word.

Kon dit die pyn van verlies effe verdoof? Wie weet! Harry was, soos mees­te van die ander soldate waaroor ek tot nou al geskryf het, ook ’n oud-leerling van die Boys’ High School op Oudts­hoorn. Hy, sy twee susters Leah en Rachel, sy broer Barney en sy ouers was, soos Morris Danzig in my vorige artikel, ook Jode wat hulle in die laat 1800’s in die Klein Karoo kom vestig het. Hulle was van Letland. Ek lei af uit ’n nuusberig wat ek in die museum raakgeloop het, dat Harry na skool be­gin boer het en ook met volstruise handel gedryf het. Hy het ’n plaas met die naam Doornrivier in die Barrydale-distrik gehad. Een van sy vriende wat ook saam met hom sou aansluit, Hercules Louw, het vertel dat hy so ver as die Calvinia-distrik met volstruise gesmous het. Hy is nooit getroud nie.

Nadat Harry vrywillig by die weermag aangesluit het om ook oorlog toe te gaan, is hy na die seinersafdeling van die South African Engineers gestuur. Sy vriend Hercules het genoem dat sy broer na Doornfontein sou omsien terwyl hy oorsee was. Hy het in Maart 1917 by sy basis in Houghton Regis, Dunstable, Engeland aangekom waar hy as ’n sogenaamde “motor-cyclist dispatch rider” opgelei is; iemand wat dringende boodskappe en opdragte per motorfiets na en van hoofkwartiere en militêre eenhede moes vervoer.

’n Mens assossieer oorlog meestal met vegtende soldate, maar ek het al in vorige artikels gewys dat ondersteu­ningsmagte net so ’n belangrike bydrae gelewer het tot die sukses van die oorlog. So het die boodskappers ook hul deel bygedra. Seiners se taak was om kommunikasielyne tussen die front en die agterste linies te installeer en onderhou. Soms was dit egter net nie moontlik om telefoonlyne te span nie, of die lyne is dikwels deur bombarde­ring aan flarde geskiet. Dan moes boodskappers die werk doen – te voet, te perd, of per motorfiets. Dit was waarvoor Harry opleiding ontvang het. Interessant, hulle moes soms ook vlieg­- duiwe saamneem wat op hul beurt met boodskappe teruggevlieg het.
Die hartseer van Harry se verhaal is dat hy skaars twee maande in Engeland was toe hy in ’n fratsongeluk gesterf het. Ek het op ’n foto afgekom wat hy uit Engeland aan die familie gestuur het. Dit was waarskynlik die laaste foto wat van hom voor sy tragiese ongeluk geneem is. Hy het die woorde, With love, from Harry, daarop geskryf; ’n laaste bevestiging van die liefdesband tussen hom en sy familie.

Die ondersoek na sy dood toon dat hy rondom vieruur die middag van 22 Mei 1917 in die stad op pad êrens heen was op sy motorfiets. Voor hom was ’n vragmotor besig om perdekarre verby te steek. Hy besluit toe om terselfdertyd die vrag­motor verby te steek, wat hom in die aankomende baan laat ry het. Dit was ’n fout. ’n Ander motor­fiets­ryer (toevallig van dieselfde eenheid as hy) het van voor af aangekom. Die twee motorfietse moes te na aan mekaar verbyry en Harry se handvatsel het die ander fiets se lig getref.

Die slag het hom onder die vragmotor se wiele laat beland en hy is volgens ooggetuies op slag dood. Hy is op 29 Mei 1917 in die Plashet Jewish Cemetery in Londen begrawe.

Om watter rede oorlog ook al gevoer word, en om watter rede jong manne hulleself beskikbaar stel om in daardie oorlog te gaan veg, die realiteit is dat nie almal lewend terugkom nie. Harry Daniler was een van hulle, en sy ouers nog ’n pa en ma wat die gevreesde klop aan die deur moes trotseer. Isaac het uiteindelik 83 jaar oud geword en Rosie 72.

Harry Julius Daniler.

Harry Julius Daniler.

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2018. Digitale projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?