Blydskap oor dié swembad

Die eerste duikslag in die nuwe Prins Albertse dorpswembad dwing die bewondering af van die munisipale bestuurder, Heinrich Mettler (middel agter).              Foto: Marlene Malan

Die eerste duikslag in die nuwe Prins Albertse dorpswembad dwing die bewondering af van die munisipale bestuurder, Heinrich Mettler (middel agter). Foto: Marlene Malan

Deur Marlene Malan
PRINS ALBERT het Dinsdag ’n swembad ryker geword – tot groot vreugde van die inwoners van die dorp wat jare lank hiervoor gewag het.

Die swembad is die helfte van ’n Olimpiese grootte en het R6 miljoen gekos.

Die beplanning hiervan het sowat 22 jaar gelede begin, maar ’n geldgebrek het die uitvoering daarvan telkens in die wiele gery.

Dis ’n projek wat jare lank geduur het om voltooi te word, het die burgemeester, Goliat Lottering, by die openingsgeleentheid gesê.

Die seremoniële opening is behartig deur die Wes-Kaapse minister van kultuursake en sport, Anroux Marais.

Volgens Marais het so ’n ontspanningplek, net voor die warm somermaande, ’n groter doel as net om af te koel. “Dit hou kinders besig en help hulle om ’n gesonde leefstyl te handhaaf. Hierdie swembad is die provinsie se geskenk aan die gemeenskap van Prins Albert en omliggende gebiede.”

Om in die water mee te ding, “moet help om kinders te leer dat hul strewe na sukses groter moet wees as hul vrees om te verloor,” het sy aan sowat 300 mense – van wie die meeste jongmense – gesê.

Lottering het gesê hy sou graag wou sien dat Suid-Afrika eendag ’n wêreldklasswemmer lewer wat uit Prins Albert in die Groot-Karoo kom, “een wat hierdie swembad benut het. Die dorp moet vir homself ’n teiken stel, en dis om binne tien jaar ’n Olimpiese swimmer soos Chad le Clos te lewer.”

Hy het dr Annelie Rabie, lid van die Sentraal-Karoo-distriksmunisipaliteit en inwoner van Prins Albert, bedank daarvoor dat sy die een was wat ’n swembad in die dorp jare gelede op ’n vergadering voorgestel het. “Raadslid Rabie het die voorstel gemaak, ek het dit gesekondeer.”

Dis ’n gemeenskapsprojek wat samehorigheid kweek, het hy voorts gesê.

Volgens Stoffel Botes, speaker van die Prins Albert-stadsraad, “moes ek as kind, dertig jaar gelede, in moddergate swem as ek warm gekry het. Ek het nooit gedink ek sal die voorreg hê om hier te staan by die opening van so ’n groot swembad nie. Die swembadvraagstuk is jare lank warm gehou hier in Prins Albert. Dis lank gedryf deur raadslede en amptenare wat sterk hieroor gevoel het. Die Wes-Kaapse regering, in die besonder minister Marais, moet bedank word vir haar beleid van gemeenskapsgerigtheid.”

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2017. Digitale projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?